Ons verkondig die Evangelie van Jesus Christus, Hom as gekruisigde, opgestane Verlosser en Saligmaker.
Vorm van Aanbidding
Kenmerkend van die vorm van aanbidding is dat dit ordelik, meelewend en onder leiding van die Heilige Gees geskied.
God staan sentraal in hierdie vorm van aanbidding, want aan Hom kom toe al die waardering,
lofprysing en dank in die erediens terwyl die mens sekondêr is.
Tydens die oggenddienste sing ons hartlik saam vanaf die databord. Ons maak gebruik van Psalms en Gesange, Hallelujaliedere, Nuwe liedboek asook Skrif gefundeerde koortjies en Geestelike liedere.
Die lofprysing en aanbidding moet te alle tye ordelik, respekvol en eerbiedig wees. Ons glo sang is baie belangrik ook vir die voorbereiding van ons harte vir die prediking.
Die hoof fokus van die erediens is egter nie sang nie maar Woordbediening, daarom word die meeste tyd aan Woordbediening afgestaan.
Die voorlees van die Wet, of die samevatting daarvan, asook die lees van die Geloofsbelydenis word in die ritus van die erediens ingesluit.
Erediens bywoning:
Die Kerk beskou die bywoning van eredienste as uiters belangrik, enersyds om lidmate in die geloof te versterk en tot geestelike volwassenheid te lei en andersyds om persone te help om tot geloof in Christus te kom.
Die amptelike Kanselbybel:
Tydens die sinode van 1986 is daar besluit dat die 1933/53 Afrikaanse Bybel die amptelike Kanselbybel in die EG Kerk SA sal wees.
Dit word steeds beskou as die mees betroubare vertaling van die Bybel in Afrikaans.