h/v Jackie Kruger str en David str, Naudeville, Welkom
Ons verkondig die Evangelie van Jesus Christus, Hom as gekruisigde, opgestane Verlosser en Saligmaker.
Die kerk word regeer volgens die Presbiteriale stelsel. “Presbiter” beteken “ouderling.” Dit beteken die ouderlinge regeer die gemeente.
In die drie kerkvergaderings nl. Kerkraad moet die ouderlinge meer as die diakens wees. Op die Rings- en Sinodalevergaderings word daar vir elke predikant twee ouderlinge afgevaardig.
Na ons mening is die Prebiteriale stelsel ‘n gesonde kerkregeringstelsel.
Predikante van die kerk word opgelei by ons kerk se eie teologiese seminarie nl. Betshan.
Die predikantekursus is ‘n 5 jaar voltydse kursus. Vier jaar hiervan is op die kweekskool waar die studente inwoon, en die 5de jaar is ‘n prakties- of internskap jaar.
Met ons kweekskoolopleiding word manne nie net akademies toegerus nie maar ook geestelik geslyp en toegerus vir die bediening. Betshan is geleë ten Ooste van Pretoria.
Die EG Kerk SA is nie lid van die Wêreldraad van Kerke nie.
Die Wêreldraad van Kerke ontken tans openlik dat Jesus Christus die enigste Verlosser van die wêreld is en beweer dat die saligheid op ander maniere as deur Jesus Christus verkry kan word. (Hand 4:12)
Die Wêreldraad van Kerke is in 1948 gestig met die leuse: “Een Kerk vir Een Wêreld.” Die Wêreldraad van Kerke staan ‘n onheilige “Ekumenisme” voor en berei die weg voor vir die “Eenwêreld Kerk” van die komende antchris regering.
Daar is ‘n verskeidenheid van gemeente-aksies wat ons hier onder voornemende lidmate se aandag wil bring en u aanmoedig om betrokke te raak.
Die EG Kerk SA is ‘n konferensie kerk. Daar is jaarliks gedurende Paasnaweek, skoolvakansies, langnaweke ens. Kerkkampe, Vrouekampe en Jeugkampe aangebied in verskillende dele van die land.
Die kerk het twee kampterreine nl. Lofdal (Tussen Tzaneen en die Strydom Tonnel) en Eden (Noord-Oos van Pretoria).
U word aangemoeding om hierdie kampe te ondersteun. Net die ewigheid sal kan getuig wat die Here in mense se lewens gedoen het tydens sulke kampe
Waar kry die gemeente sy geld en inkomste vandaan?
Die Here voorsien vir die gemeente deur die hande en sakke van kinders van God. Die inkomste van die gemeente kom van God af!
Ons leer die lidmate wat Gods Woord sê i.v.m finansies.
Mal3:8 Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. 9.Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! 10. Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare,
Die kinderbediening-personeel bestaan uit ‘n groep vrywilligers uit die gemeente wat deur die Heilige Gees so gelei word om dié belangrike taak te verrig.
Die Kinderbediening behels die geestelike opleiding van kinders van graad 1 tot graad 11, waarin graad 11 die finale jaar is en die leerlinge aan die einde van die jaar voorgestel word en amptelik belydenis van hul geloof aflê.
Ons spits ons daarop toe dat elke leerling die volle evangelie geleer word en goed verstaan, maar dat voorstelling en aanneming voor die gemeente nie wedergeboorte is nie.
Elke indiwidu moet egter op ‘n dag in sy/haar lewe die Here Jesus as persoonlike Verlosser en Saligmaker aanneem. Die personeel doen ook baie moeite om die les-materiaal op elke kind se vlak te verduidelik.
Die hart van ons gemeente lê in die CVV. Elke lid van die CVV vorm deel van ‘n span wat die gemeente met gebed dra en doen moeite om gemeentelede en besoekers welkom te laat voel.
Die susters het elkeen ‘n gebeds vriendin wat behels dat elkeen ‘n persoon het wat spesiaal vir haar bid. Die susters van die CVV samel fondse in d.m.v funksies, etes, ens. en dit word aangewend vir gemeentelike uitgawes en aktiwiteite.
Sending en Evangelisasie lê ons baie na aan die hart. Dit is immers Jesus se laaste opdrag volgens Mat. 28:19- Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies…
Ons Kerk ondersteun verskeie sending-organisasies en het ook sy eie sending-aksie genaamd AKSIE 1:8. Dié organisasie, wat onder die toesig van die EG Kerk SA funksioneer, hanteer die sendingwerk van die EG Kerk SA in geheel.
Aksie 1:8 stel dit ten doel om elke gelowige betrokke te kry by die uitdra van die evangelie deur self te evangeliseer, opreg vir die saak te bid en finansieël by te dra vir sendelinge en sending-aksies.
Ons predikant is daarop ingestel om enige persoon wat vra vir geestelike hulp en raad te bedien. Ons glo dat daar na elke indiwidu persoonlik se geestelike belange omgesien moet word.
Op 21 April 2023 herdenk die EG Kerk SA sy 79ste jaar van bestaan – 79 jaar van genade met ‘n besondere doel.
Dit was op hierdie datum in 1944 waarop die geboorte van ‘n nuwe kerk vriend en vyand verras het.
Die kerk is gestig op 21 April 1944, onder die naam Nuwe Protestantse Kerk in Afrika, deur twee derdes van die kerkraad van die N.G. Kerk in Smith straat, Durban.
Die naam van die kerk is egter in 1986 verander na Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika.
Die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (EG Kerk SA) is ‘n lewenskragtige Evangeliese kerk wat op ‘n Gereformeerde grondslag berus.
Moontlik het u nog nooit met die Kerk kennis gemaak nie.
Dit mag selfs wees dat u nog nooit van die Kerk gehoor het nie.
Deur verdraaide of gebrekkige inligting mag dit wees dat u ‘n verkeerde begrip omtrent die Kerk.
Die EG Kerk SA reik die hand van vriendskap en welwillendheid na elke Christus-belydende Kerk.
Hierdie Kerk distansieer hom geheel en al van die Wêreldraad van Kerke sowel as die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en alle ander affiliasies van genoemde rade.
Ons beskou dit as ‘n besondere voorreg om u langs hierdie weg in te lig en beter kennis te laat maak met die EG Kerk SA.